Hedendaags is daar 22 godsdienste in die wêreld met die Christelikheid wat aanspraak maak as die grootste onder al die aanhangers van die een of ander godsdiens. Die Christendom maak aanspraak op 2.1 biljoen, gevolg deur die Islam met 1.3 biljoen. Ander godsdienste met ’n groot aantal volgelinge is Hindoeïsme met 900 miljoen, en Boeddhisme met 376 miljoen. Ingeslote by die bovermelde 22 is ’n groep waarna verwys word as Sekulêr/nie-godsdienstig/Agnosties/Ateïsties – 1.1 biljoen.
Die laaste kategorie is uiteenlopend en verteenwoordig godsdiensoortuigings (of die gebrek daaraan) eerder as ’n godsdiens per se. Ateïste verteenwoordig slegs die helfte van een persent van die bevolking in enige gegewe land waar groot getalle aanspraak maak op geen godsdiens voorkeure nie; derhalwe is hierdie kategorie nie sinonimies met ateïsme nie.
Die voorafgaande syfers is ver van akkuraat, soos gesien kan word uit die volgende voorbeelde:
Hedendaagse syfers vir die Islam wissel gewoonlik tussen 900 miljoen en 1.4 biljoen.
Wêreldwye Hindoeïstiese aanhangers tel gewoonlik so tussen 850 miljoen en een biljoen.
Wêreldwyd tel die Hindoeïstiese aanhangers gewoonlik tussen 850 miljoen en 1 biljoen.
Wêreldwyd is daar tussen 230 en 500 miljoen Boeddhiste.
Bron: www.adherents.com/Religions_By_Adherents.html
Ek hoop nie ek verwar die lesers as ek sou byvoeg dat baie Boeddhiste vir jou sal sê dat Boeddhisme nóg ’n godsdiens, nóg ’n filosofie, is. Hulle volg die leringe van die Boeddha (Siddhartha Gautama) na. Hulle glo nie in God of gode nie. Dit is ’n vreedsame beweging en Boeddhiste sal jou trots inlig dat geen bloed ooit vergiet was in die naam van Boeddhisme nie. (Hoeveel ander godsdienste kan dieselfde aanspraak maak?)
Volgens die Urantia Boek:
1. Hindoeïsme is die heel oudste godsdiens ooit, en Sikhisme die mees onlangse.
2. Die mees gevorderdste godsdienste van die ou tyd was Judaïsme en Hindoeïsme.
3. “Die Christelike godsdiens is die godsdiens omtrent die lewe en leer van Jesus, gebaseer op die teologie van Judaïsme, verder gewysig deur die assimilasie van sekere Zoroasteriaanse leringe, en die Griekse Wysbegeerte, waar laasgenoemde hoofsaaklik geformuleer was deur drie indiwidue: Filo, Petrus, en Paulus.”
Wat is die oorsprong van ons bestaande godsdienste?
Magiventa Melgisedek
Duisende jare gelede het ons planeet begin ontwikkel. Die geloof in één God was besig om te vergestalt. ’n Beskawing van een of ander aard was besig om gevestig te raak. Maar toe tref ’n reeks rampe hierdie planeet. In die eerste plek was daar wat vandag bekend staan as die Lucifer-opstand. Daarna het ons Planetêre Prins, Caligastia, hom by die opstand geskaar. En einde ten laaste het Adam en Eva versuim. Duisternis het oor Urantia neergedaal. En ons is steeds besig om ons wonde te lek na ál die jare. In toekomstige afdelings gaan ek baie kortliks omtrent daardie gebeure praat. Vir die huidige wil ek my slegs bepaal by die Melgisedek-sending op Urantia.
In die eerste plek is ’n Melgisedek ’n glorieryke Seun van die Plaaslike Heelal (d.w.s. ons deel van die heelal). Jy mag dalk met baie vrae sit: Waarom word hy ’n “Seun” genoem? Wie is die ouers? en so aan. Wel, dit is vir my onmoontlik om in al die besonderhede in te gaan. As jy graag meer wil weet, gaan na die Urantia Genootskap se tuisblad: http://www.urantiabook.org
Die volledige boek is aanlyn beskikbaar. Daar is ook ’n soekenjin. Jy kan invoeg: Sonship in the Local Universe, Sons of the Local Universe, Mechizedeks, Administration of the Local Universe, ens. Jy kan ook die inhoudsopgawe naslaan. Tussen hakkies, die naam van ons Plaaslike Heelal is Nebadon.
Gedurende daardie dae was daar op ons planeet twaalf Melgisedek planetêre ontvangers. Hierdie glorieryke Wesens was erg bekommerd gewees oor die geestelike status van Urantia. Hulle het beraadslaag met hulle Owerstes, en, hoewel dit heelwat oortuiging van hulle kant geverg het, was hulle bekommernisse uiteindelik aangespreek.
Wat volg is gedeeltes uit die Boek wat ’n baie belangrike besoek aan ons planeet beskryf.
“… Magiventa Melgisedek, een van die twaalf planetêre ontvangers, het aangebied om te doen wat op daardie tydstip slegs ses keer tevore in die ganse geskiedenis van Nebadon, verwag was om gedoen te word: om op die aarde te verpersoonlik as ’n tydelike mens van die gebied, om homself te skenk as ’n noodleniging-Seun vir wêrelddiens.”
Dit was 1,973 jaar voor die geboorte van Jesus, dat Magiventa homself geskenk het aan die menslike rasse van Urantia. Sy koms was onopsigtelik; sy materialisering was nie deur menslike oë aanskou nie. Hy was vir die eerste maal gesien deur sterflike mense op daardie gebeurtenisvolle dag toe hy by die tent van Amdon, ’n Chaldeuse herder van Sumeriese afkoms, ingestap het. En die aankondiging van sy sending was beliggaam in die eenvoudig verklaring wat hy gedeel het met hierdie skaapwagter, “Ek is Melgisedek, priester van die El Elyon, Die Allerhoogste, die énigste en waaragtige God.”
Nadat die herder oor sy verbasing gekom het, en nadat hy hierdie vreemdeling met ’n menigte vrae bestook het, het hy vir Melgisedek genooi om saam met hom te eet, en hierdie was die heel eerste keer in sy lang heelal-loopbaan dat Magiventa materiële voedsel genuttig het, die voeding wat veronderstel was om hom in stand te hou regdeur sy 94-jaar van lewe as ’n stoflike wese.
En daardie aand, namate hulle gesels het onder die sterre, het Melgisedek sy sending begin – ’n sending van die openbaring van die waarheid omtrent die werklikheid van God, toe hy, met ’n swaai van sy arm, hom tot Amdon gerig en gesê het, “El Elyon, die Allerhoogste, is die goddelike skepper van die sterre aan die firmament en selfs van hierdie aarde waarop ons woon, en hy is ook die Opper God van die hemel.”
Binne ’n paar jaar het Melgisedek rondom hom ’n groep leerders, dissipels, en gelowiges vergader wat die kern gevorm het van die latere gemeenskap van Salem. Baie gou het hy bekend geraak regdeur Palestina as die priester van El Elyon, die Allerhoogste, en as die wys ou man van Salem. Onder sommige van die omliggende stamme was daar dikwels na hom verwys as die sjeik, of koning, van Salem. Salem was die terrein wat na die verdwyning van melgisedek die stad, Jebus, geword het, en uiteindelik as Jerusalem bekend staan.
Een van Magiventa se mees begaafde studente was ’n man met die naam van Abraham. Op laasgenoemde was daar ’n baie groot verantwoordelikheid geplaas.
Alhoewel dit nie korrek is om te praat van ’n “uitverkore volk” nie, is dit nie verkeerd om na Abraham te verwys as ’n uitverkore indiwidu nie. Melgisedek het wel op Abraham die verantwoordelik geplaas om die waarheid van één God lewendig te hou, in teenstelling met die heersende geloof in plurale gode.
Die kiesing van Abraham was nie toevallig nie.
Die Melgisedek ontvangers het reeds vir ’n geruime tyd die voorgeslagte van Abraham dopgehou, en hulle het vol vertroue nakomelinge verwag uit ’n sekere geslag wie gekenmerk sou word deur intelligensie, inisiatief, wysheid, en opregtheid. Die kinders van Tera, die vader van Abraham, het op alle gebiede aan hierdie verwagtinge voldoen. Dit was die moontlikheid van kontak met hierdie veelsydige kinders van Tera wat heelwat te doen gehad het met die verskyning van Magiventa in Salem, eerder as in Egipte, China, Indië, of onder die noordelike stamme.
Dit was baie moeilik vir die vroeëre inwoners van die planeet om Magiventa se boodskap te aanvaar. En dit was ook vir Abraham nie maklik nie. As ’n sterfling van die gebied het hy sy persoonlike aardse sorge gehad waaronder die gewigtigste was dat hy nie kinders gehad het nie. En dit is hierdie einste kaart wat Melgisedek gespeel het, soos ons kan sien vanuit hierdie twee pragtige passasies uit die Boek.
En Melgisedek het ’n formele verbond gesluit met Abraham, te Salem. En hy het vir Abraham gesê: “Kyk nou na die hemele en tel die sterre as jy daartoe in staat is; net so talryk sal jou nageslag wees.” En Abraham het vir Melgisedek geglo, “en dit was vir hom as geregtigheid toegereken.” En toe vertel Melgisedek vir Abraham die verhaal van die toekomstige inname van Kanaän deur sy nageslag ná hulle omswerwinge in Egipte.
Hierdie verbond van Melgisedek met Abraham verteenwoordig die groot Urantiaanse ooreenkoms tussen godheid en mensheid waar God ooreenkom om alles te doen; die mens stem slegs in om God se beloftes te glo en om sy opdragte uit te voer.
Die Boek sê vir ons dat Abraham nie die enigste onderrigter was wat vanuit Salem voortgekom het nie.
Die vroeëre leraars van die Salem-godsdiens het tot by die mees afgeleë stamme van Afrika en Eurasië deurgedring, terwyl hulle voortdurend Magiventa se evangelie verkondig het van die mens se geloof en vertroue in die een universele God as die enigste prys om goddelike guns te verkry. Melgisedek se verbond met Abraham was die patroon vir al die eertydse propaganda wat vanuit Salem en ander sentra voortgekom het. Nog nooit het Urantia oor meer entoesiastiese en aggressiewe sendelinge beskik van enige godsdiens as hierdie eerbare manne en vroue wat die leringe van Melgisedek oor die ganse Oostelike Hemisfeer gedra het nie. Hierdie sendelinge was verwerf vanuit baie volke en rasse, en hulle het merendeels hulle leringe versprei deur middel van plaaslike bekeerlinge. Hulle het opleidingsentra gevestig in verskillende wêrelddele waar hulle aan die inwoners die Salem-godsdiens geleer het, en daarna opdrag gegee het aan hierdie boorlinge om as onderrigters onder hul eie mense op te tree.
Ons mag nou wel ’n planeet wees wat moeilike tye beleef. Ons mag wel geïsoleer wees van die res van die heelal. Ons mag onder duisende ander bewoonde planete in Nebadon tel. Maar ongeag al hierdie tekortkominge, vra besoekers van ander heelalle wat na Nebadon reis, altyd omtrent Urantia. Hoekom? Omrede Jesus Urantia uitgekies het om in die vlees te verskyn. Soos ons almal weet, was Hy soos enige ander baba van hierdie gebied gebore; Hy het nie sommer ewe skielik sy verskyning gemaak in die vorm van ’n volgroeide man, soos die geval was met Magiventa nie.
Dit sou buite die strekking van hierdie relaas wees om nou in besonderhede in te gaan. Daar is sowat 800 bladsye aan die einde van die boek wat Jesus se lewe op Urantia beskryf. En dan is daar nog vele meer elders in die boek. Ek kan dalk ten minste verduidelik wie Jesus was, maar ek dink nie so nie.
Sommige van die besonderhede wat voorsien word in die Urantia Boek is in direkte kontras met aanvaarde Christelike leerstellings. Ek pen hierdie artikel uit liefde, en die begeerte om van my kennis met my lesers te deel. Die allerlaaste ding wat ek wil doen is om alternatiewe geloofsoortuigings, in teenstelling met die algemeen aanvaarbare oortuigings, te voorsien.
Voel egter vry om na die webtuiste (http://www.ubfellowship.org/) te verwys, en in die soekenjin in te tik: Michael of Nebadon, Christ Michael, ens. Jy sal vir ure aaneen sit en lees, indien nie dae lank nie!